Boodskap van Hoof
| Artikel Indeks |
|---|
| Boodskap van Hoof |
| Dissipline |
| Alle bladsye |
Die Laerskool Jan Celliers - die skool waar elke kind spesiaal is - het meer as net ‘n trotse verlede, want ons staan vir ‘n ideaal. ‘n Ideaal om binne ‘n gebalanseerde, Afrikaanse skoolmilieu ruimte te bied vir elke unieke kind om sy/haar moontlikhede ten volle te ontwikkel. Daar word gestreef om die kosbaarste kleinood wat God in Sy skeppingsplan aan ons toevertrou het, as volwaardig toegeruste, afgeronde en gelukkige jongmense na die hoërskole van hul keuse te stuur.
Vanuit ‘n Christelike waardestelsel streef die skool na dit wat eersterangs, voortreflik en uitnemend is en gevolglik plaas ons ‘n hoë premie op die hartlike vennootskap tussen skool en ouerhuis. Indien ons as vennote hande vat, kan ons die kind help vorm tot ‘n beskaafde, hoflike en verantwoordelike jongmens vol selfvetroue wat gereed sal wees om die eise van die lewe die hoof te bied.
Die skool is gesteld op kwaliteit akademiese-, afrigtings- en opvoedkundige bemoeienis met elke kind, sodat elkeen sy/haar eiesoortige potensiaal kan ontwikkel om ‘n saakmakende bydrae in die skoolgemeenskap te lewer. Ons passie is om blywende lewensankers te verskaf deur onderrig van hoogstaande gehalte te lewer, ‘n ondersoekende ingesteldheid te kweek, ondernemingsgees aan te moedig, kreatiewe denke en estetiese bewustheid te koester asook om kinders te help om sukses te geniet en realisties na mislukkings te kyk.
Laerskool Jan Celliers stel orde en dissipline as voorvereiste vir die sinvolle persoonlikheidsontwikkeling van elke kind. Die doel is om leerders deur selfstandige leierskap onder die besef te bring dat vryheid en regte in die skool in balans gehou moet word deur verantwoordelikheid te aanvaar en pligte na te kom. Elke leerder moet hoë eise aan hulself stel om verstandelike vermoëns, sporttalent, kultuuraanleg en -waardering, ontwikkeling van leierskap en selfbemagtiging optimaal te verwesenlik.
Laerskool Jan Celliers hou tred met die snel ontwikkelende wêreld en daarom is daar voortdurend vernuwing in ons denke, benadering, studie-inhoud en fasiliteite en is die skoolbestuur pro-aktief ten opsigte van strategiese beplanning.
Die toets vir enige skool bly steeds die mensemateriaal wat hy lewer. Wat Laerskool Jan Celliers betref, lewer sy oud-leerders op verskeie terreine van die samelewing bewys daarvan dat daar geslaag word in die strewe na balans en akkommodering van die vooruitstrewende seun en dogter.
Graag verwelkom ek u byvoorbaat by Laerskool Jan Celliers en verseker ek u dat u kind hier sy/haar mooiste en gelukkigste jare sal deurbring.

| Ons is uniek en spesifiek! |
Adres: |
Onderparkrylaan, Parkview, Johannesburg |
Posadres: |
Privaatsak X4, Parkview, 2122 |
Telefoon |
011 646-3336 / 011 486-1042 |
Faks: |
011 646-4203 |
E-Pos: |
