Geskiedenis
| Artikel Indeks |
|---|
| Geskiedenis |
| Inhuldiging |
| Alle bladsye |
Laerskool Jan Celliers, vernoem na die gevierde Afrikaanse digter, is in 1935 gestig. Dis geleë in die boomryke omgewing van die Dieretuinmeer in Johannesburg, en spog met ‘n ewe ryk geskiedenis.
Op 13 Desember 1933 het ‘n twaalftal ouers onder voorsitterskap van mnr. J. E. Reeler, die eerste vergadering gehou om die stigting van ‘n Afrikaansmediumskool in die oorwegende Engelssprekende noordelike voorstede te bespreek. Daar was in dié tyd, onder leiding van die Handhawersbond, ‘n sterk gevoel om Afrikaanse kultuur in Johannesburg uit te bou.
‘n Volle jaar het verloop voor die Noordelike Voorstedeskool, soos dit aanvanklik bekend was, uiteindelik op 16 Januarie 1935 in die Vrymesselaarsaal in Parktown-Noord geopen is.
Mnr. C. B. Linder is aangestel as hoof en hy is in 1942 deur mnr. B Havenga opgevolg. Op die eerste dag is 45 leerlinge ingeskryf en die skool kon met ‘n personeel van drie begin. Die skooldrag is toe al ingestel: groen, om die jeugdige daadkrag voor te stel, met die leuse: GROEI, wat op die toekomsmoontlikhede van die skool dui.
Eers op 12 Oktober 1936 is die skool herdoop tot die Jan Celliersskool en heelwat later, op 26 November 1938, kon die sierlike skoolgebou in die Kaaps-Hollandse styl met ‘n Groot Constantia-gewel, en die saal ingewy word.
'n Besondere gebeurtenis in die geskiedenis van die skool was'n inhuldigingsaand vir Jan Celliers op 9 April 1937 wat deur sowat 800 mense bygewoon is. Behalwe Jan Celliers, was persoonlikhede soos Totius en Anton van Wouw teenwoordig. ‘n Portretskildery van Jan Celliers deur W. H. Coetzer is onthul deur Annette Theron.
Ná mnr. B. Havenga is mnr. A. Pienaar in 1945 aangestel. Hy sou die skool vir 23 jaar bestuur voor mnr. J. B. Senekal in 1968 aangestel is.
Die skool het gaandeweg ‘n kultuursentrum in die noordelike voorstede geword. Die terrein is deur die bemiddeling van dr. S. Kuschke vergoot en kon toe ten volle voorsien in die behoeftes van die skool.
Vandag is die Laerskool Jan Celliers landwyd bekend as ‘n voortreflike skool. Die standaarde wat hier gehandhaaf word, is alombekend en dit was dus amper vanselfsprekend dat die skool in privatisering belang sou stel. Mnr. Senekal, wat hom beywer het vir hierdie saak, het in 1992, ná 24 jaar se diens by die skool, afgetree.
In Januarie 1993 het die skool amptelik privaatskoolstatus gekry - die eerste Afrikaansmedium privaatskool in die land en lid van die Vereniging van Privaatskole in Suid-Afrika (The Independent Schools' Council). ‘n Nuwe hoof, mev. A. B. Pretorius, is terselfdertyd aangestel.
Mnr. G. K. Keyter is in 2006 aangestel as die nuwe hoof.
| Ons is uniek en spesifiek! |
Adres: |
Onderparkrylaan, Parkview, Johannesburg |
Posadres: |
Privaatsak X4, Parkview, 2122 |
Telefoon |
011 646-3336 / 011 486-1042 |
Faks: |
011 646-4203 |
E-Pos: |
