Omsendbriewe

Omsendbrief No: 7

Artikel Indeks
Omsendbrief No: 7
Gelukwense
Alle bladsye

LANGNAWEEK
Die skool sluit op Donderdag 25 Februarie om 12:00 en begin weer op Dinsdag  2 Maart om 07:35.  Vorderingsverslae sal net voor sluitingstyd aan leerlinge uitgedeel word.

STORIE-AAND : 24 FEBRUARIE
Ons storie-aand vind vanaf 18:30 tot 20:30 plaas. Graad 1 - 3 kinders kan in hul slaapklere kom, maar graad 4 - 7 kinders moet asseblief in gemaklike slenterdrag kom.  Kinders moet onthou om ‘n kussing saam te bring om op te sit.
Die lokale waar stories gelees word, is :
Graad 1 en 2             Mediasentrum
Graad 3                    Ou Rekenaarsentrum
Graad 4 - 5               Saal
Graad 6 - 7               S F du Toitsaal

OUERS IN KLASSE GEDURENDE ONDERRIGTYD
Ten spyte van my vriendelike versoek in omsendbrief 1 van 2010, gebeur dit nog van tyd tot tyd dat enkele ouers die onderwysers gedurende onderrigtyd in hul klaskamers steur.  'n Vriendelike, dog ernstige versoek word gerig dat die professionaliteit van die onderwysers gerespekteer sal word en dat afsprake gedurende pouses en na skool sal plaasvind.

PAASEIERS VIR DIE JOHANNESBURG MINI- STADSRAAD
Jan Celliers is nou vir die vierde agtereenvolgende jaar by die projek betrokke waar die mini-stadsraad van Johannesburg paaseiers insamel om gedurende die Paastyd aan minderbevoorregte kinders en bejaardes te versprei.  Aangesien ons skool op die mini-stadsraad verteenwoordig is, is ons bevoorreg om ook aan hierdie projek deel te neem.  Dit sal baie waardeer word indien elke leerling voor of op Vrydag 19 Maart paaseiers skool toe sal bring.  Dit kan by mev Fryer se klas ingehandig word.  Die graad wat vanjaar die meeste paaseiers insamel, sal 'n dag met gewone klere mag skool toe kom.  By voorbaat baie dankie vir elkeen se ondersteuning.

VERVOER VAN KINDERS NA SPORTWEDSTRYDE
Die skool waardeer dit indien ouers hul kinders self na sportgeleenthede neem, maar u word tog vriendelik versoek om uself van die padaanwysings te vergewis en ook nie ander onnodige draaie te ry op pad na die gasheerskool nie.  Indien kinders laat vir 'n byeenkoms opdaag as gevolg van iemand wat verdwaal het of in lang rye by kitskoswinkels moes wag, skep dit ongemaklikheid by die organiseerders en afrigters van die aktiwiteit.  U samewerking word op prys gestel.

75- JARIGE FEESVIERINGE
Die feesnaweek van 19 - 21 Maart kom nou baie vinnig nader en ons gaan u oor die volgende aantal Woensdae op hoogte hou van alle reëlings vir hierdie groot geleentheid.
Potjiekoskompetisie
Daar gaan 'n groot potjiekoskompetisie tydens die kermisdag van 20 Maart wees en ons wil so veel as moontlik ouers vra om deel te neem.  Inskrywingsvorm word as addisionele dokument hierby aangeheg. 
Kaskarwedren
Die enigste "donasies" wat vir die feesnaweek gevra sal word is om u kind per rondte te borg vir die die kaskarwedren van Saterdag 20 Maart.  Borgvorms word ook as addisionele dokument hierby aangeheg.
Dinee
'n Vloerplan van die tafeluitleg vir die feesdinee van Vrydag 19 Maart sal van volgende week af by die algemene kantoor beskikbaar wees.  U word vriendelik versoek om u tafelbespreking so spoedig moontlik te maak.
Oupa- en oumadag
Ons oupa- en oumadag van 18 Maart gaan vanjaar 'n baie besondere gebeurtenis wees.  Dit sal ook die eerste keer wees dat grootouers van die kleuterskool en die laerskool die dag saam sal bywoon.  U word daaraan herinner dat die keerdatum vir bevestiging van bywoning, Dinsdag 2 Maart, is.

VAKANTE POSTE
Twee vakante poste by Jan Celliers is die afgelope week op ISASA se webwerf, in Rapport en die Caxton nuusblaaie geadverteer.  Die poste is : Engels 1e Taal graad 4 - 7 vanaf 1 Januarie 2011, Wiskunde graad 4 - 7 vanaf April 2010 of so spoedig moontlik daarna. Indien u van 'n persoon weet wat in een van hierdie poste sou belangstel, kan u asseblief die skool se kontakbesonderhede aan hulle gee.  Die sluitingsdatum vir aansoeke is 8 Maart 2010.


 

GELUKWENSE
Hartlik geluk aan die volgende kinders wat mooi presteer het :
Skoolhooftoekennings
Michael Long vir hulpvaardigheid. Nicky Sibanyoni vir entoesiasme.
Swem
Miguel Corado verwerf sy Provinsiale kleure vir swem.  Hy gaan Gauteng by die S A kampioenskappe verteenwoordig. Ons swemspan vaar baie goed by die byeenkoms teen De la Salle, Crawford, Sacred Heart en Knights. Jan Celliers eindig in die 2e plek net 8 punte agter De la Salle.
Krieket
Die Ter Horst A-span wen met 53 lopies teen Parkview Senior.  Hugh Morgan teken 67 lopies van net 36 balle aan.
Die O/9 B-span wen met 51 lopies teen King David se O/9 A-span.  Wikus van Niekerk behaal 20 lopies.
Die O/9 A-span wen met 124 lopies teen Parkhurst.  Jean-Pierre Coetzee kolf pragtig en behaal 36 lopies.
Ten spyte daarvan dat die Commonwealth A-span teen Parkview Senior verloor het, slaan Lex Slabbert 59 lopies van 43 balle af en behaal hy en Tjaart Venter ‘n 50 vennootskap om die 6e paaltjie.
Die Ter Horst B-span wen met 6 paaltjies teen De la Salle.  Albert von Moltke boul skitterend en trek 5 paaltjies vir slegs 2 lopies plat.
Skaak
Thomas de Beer wen die O/10 afdeling van die Fairland skaaktoernooi.
Atletiek
Helena van Eeden en Michael Long behaal elk ‘n 2e plek en Thinus Swanepoel behaal ‘n 3e plek by die Distrikskampioenskappe.  Hulle gaan op 5 en 6 Maart aan die Gauteng kampioenskappe deelneem.
Sagtebal
Die Junior B-span wen met 16 - 6 teen Dainfern.
Die Junior A-span wen met 12 - 4 teen Dainfern.  Minke Swart slaan 2 "home runs".
Die 1e span verloor ongelukkig teen Dainfern met 12 - 18 en teen Beaulieu met 9 - 14.
Die Junior A-span wen met 14 - 9 teen Beaulieu.
Mini-krieket
Wedstryde by Rosebank:
Die O/7A-span wen met 46 lopies en die O/7B-span wen met 3 lopies.
Die O/8A-span wen met 14 lopies en die O/8B-span wen met 2 lopies.
Tennis
Ons senior dogterspan wen met 22 - 20 teen De la Salle.  Ons dogters se afgeronde optrede en hul goeie sportmangees was opvallend.Die senior seunsspan wen met 45 - 18 teen King David.  Ons seuns speel uitstekende, skouspelagtige tennis.
Johannesburg Mini Stadsraad
Roneque Janse van Rensburg en Logan Geldenhuys het die Camp David leierskamp van die mini stadsraad bygewoon.

Ons is uniek en spesifiek!
Adres:
Onderparkrylaan, Parkview, Johannesburg
Posadres:   
Privaatsak X4, Parkview, 2122
Telefoon
011 646-3336 / 011 486-1042
Faks: 
011 646-4203
E-Pos: