Omsendbriewe
Omsendbrief No: 21
| Artikel Indeks |
|---|
| Omsendbrief No: 21 |
| Gelukwense |
| Alle bladsye |
Geagte Ouers
Die volgende sake van belang word vir u aandag deurgegee:
OUERGESPREKKE
Aangesien die saal op die huidige stadium vir die konsert gereed gemaak word en ook boonop vol dekor staan, word u vriendelik daarop gewys dat die ouergesprekke van Woensdag 21 Julie in die onderwysers se klasse sal plaasvind. Tee en koffie sal steeds voor die saal bedien word.
KONSERTOEFENING : SATERDAG 24 JULIE
Die beplande konsertoefening van Saterdag 24 Julie soos in die beplanningsgids geskeduleer is, word gekanselleer. Ons bied verskoning vir enige ongerief aan, maar tussen die skaakproewe, verjaarsdagpartytjies en privaat reëlings is daar te veel kinders wat verskoning vir die oefening gemaak het. Dit is nie die moeite werd om sonder 'n groot aantal kinders met hierdie poging voort te gaan nie.
VERDERE KONSERTOEFENINGE
Aangesien die konsert 'n belangrike deel van ons 75-jarige feesvieringe uitmaak, is dit van kardinale belang dat alles nou in die stryd gewerp word om ook hiervan 'n groot sukses te maak. Daar is slegs 8 skooldae oor om alles gereed te kry vir so 'n omvangryke produksie. Ons maak regtig staat op elke ouer en kind se volgehoue ondersteuning en samewerking. Ons is deeglik bewus van na-uurse dans-, ballet-, krieket- en ander oefeninge, maar vir hierdie volgende paar dae kan geen leerling van 'n oefening verskoon word nie.
Neem asseblief kennis van die volgende reëlings aangaande die konsert :
- Beplande oefeninge op Dinsdag- en Donderdagmiddae gaan soos normaal voort.
- Geen oefening vind op Donderdagmiddag 29 Julie plaas nie.
- Die tegniese repetisie (klank en beligting) vind op Donderdagaand 29 Julie om 18:00 plaas en behoort teen 20:00 afgehandel te wees. Kinders moet asseblief om 18:30 aanmeld vir grimering. Geen toeskouers word hier toegelaat nie.
- Die kleedrepetisie waar oupas en oumas asook huishulpe baie welkom is om by te woon, vind op Vrydag 30 Julie om 12:00 plaas.
- 'n Verpligte gesamentlike oefening is vir Saterdag 31 Julie vanaf 09:00 tot 13:00 geskeduleer maar is onderhewig aan die vordering wat aanstaande week gemaak word.
Weens die geweldige belangstelling in die konsert, en verskeie navrae van ouers, is daar besluit om wel 'n vertoning vir Maandagaand 2 Augustus te skeduleer. Besprekings kan nou gemaak word.
GRAAD 4 - 7 TOETSE : 30 JULIE
Die graad 4 - 7 toetse van Vrydag 30 Julie word verskuif na Donderdag 29 Julie. Weens die tegniese repetisie van Donderdagaand 29 Julie het ons dit goed gedink om hierdie verskuiwing te maak sodat ons kinders goed kan voorberei en ook uitgerus is vir die toetse.
SOPPAKKIES
Ons verteenwoordigers op die Johannesburg mini-stadsraad, Logan Geldenhuys en Roneque Janse van Rensburg, is betrokke by 'n baie verdienstelike projek waar pakkies sop ingesamel word om honger mense by sopkombuise kos te gee. Dit sal baie waardeer word indien elke ouer een of meer pakkies sop na die registerklas kan stuur voor of op 18 Augustus. U welwillendheid sal hoog op prys gestel word.
MARKDAG
Ons Markdag vir hierdie termyn vind op Woensdag 18 Augustus vanaf 12:15 tot 13:30 op die houtdek by die snoepie plaas. Markdagverkopers mag vanaf 12:00 hul artikels uitpak. Hierdie Markdag is 'n TUISMARK-dag waar slegs selfgemaakte artikels verkoop mag word. Ouers mag nie vir hul kinders instaan en ‘n tafel alleen beman nie. Hulp met rangskikking van produkte, orde, kleingeld ens. word wel toegelaat. Kinders wat belangstel om aan die markdag deel te neem, kan 'n tafel en uitstalruimte by mev Du Preez teen R30-00 bespreek.
| Ons is uniek en spesifiek! |
Adres: |
Onderparkrylaan, Parkview, Johannesburg |
Posadres: |
Privaatsak X4, Parkview, 2122 |
Telefoon |
011 646-3336 / 011 486-1042 |
Faks: |
011 646-4203 |
E-Pos: |
