Laerskool

Akademie

 
 

Die skool se weldeurdagte en deeglik beproefde oorskakelingsprogram verseker dat die oorgee van die aflosstokkie vanaf die junior na die senior departement rimpelloos geskied. Graad 4’s word sagkens by die senior departement se werkswyse ingeskakel deur middel van 'n aanvanklik stadige werkswyse, verskeie studiekursusse, kamma-toetse en akademiese personeel wat hul spesialisvakke reeds sedert graad 1 onderrig.


 
 

Junior Primêr

Klein klasse vorm die kern van onderrig by JAN CELLIERS. Die junior primêre fase is geen uitsondering nie. Die standaard van onderrig in ons grondslagfase is van hoë gehalte en stel elke kind in staat om sy optimale potensiaal te bereik.

  • Ons streef na persoonlike onderrig met gefokusde en individuele aandag.

  • Die junior primêre afdeling beskik oor gegradueerde en kindervriendelike onderwyseresse wat die Christelike etos en waardes van die skool onderskryf en uitleef.

  • Indien 'n leerling spesifieke addisionele ondersteuning benodig verwys die klasonderwyseres die leerlinge na onderwysers wat elk in 'n spesifieke veld van leerling-ondersteuning spesialiseer.

  • Gehalte onderwys in gespesialiseerde areas soos Musiek, Rekenaars, Media, L.O. en Kuns word deur vakspesialiste aangebied.

  • Graad 3-leerlinge ontvang ook onderrig in Zoeloe, Engels eerste taal en Tegnologie by vakspesialiste.

 
 

 
 

 Intermediêre Fase

'n Benadering van opleiding vir 'n snel ontwikkelende wêreld word gevolg. 'n Fokus op die ontwikkeling van probleemoplossende denkvaardighede, kreatiewe waagmoed en emosionele intelligensie.

  • Eksamenvakke word deur vakspesialiste onderrig.

  • Vir optimale prestasie vind onderrig in die drie hoofvakke Afrikaans, Engels en Wiskunde in homogene groepe plaas.

  • Huistaalonderrig geskied in Afrikaans.

  • isiZulu word as derde taal onderrig en Frans as keusevak aangebied.

  • Leerlinge neem jaarliks aan nasionale en internasionale gestandaardiseerde eksamens deel.

  • Kleiner klasse verseker individuele aandag aan elke leerling.

  • Noue samewerking met ISASA en deelname aan gevorderde opleidingsprogramme en werkswinkels vir onderwysers.

  • Bybelonderrig, Liggaamlike Opvoeding, Inligtingsvaardighede, Kuns en Musiek vorm deel van die holistiese benadering binne die kurrikulum. Akademiese hulpverlening geskied tydens skoolure.

As onafhanklike skool is JAN CELLIERS nie gebonde aan Departementele beperkings van leerinhoud, evaluering en spesifieke kurrikulumvoorskrifte nie. Letterkundige studies, begripstoetse, visuele geletterdheid en luistervaardighede vorm reeds van vroeg af deel van die taalsillabus.

 
 

 

 Akademiese Fasiliteite

 

MEDIASENTRUM

  • Ons kinders het toegang tot 'n goed toegeruste mediasentrum met meer as 20 000 boeke, DVD’s en tydskrifte. Leerlinge besoek die mediasentrum reeds vanaf driejarige ouderdom en word aangemoedig om boeke te ontdek en uit te neem. Leeskompetisies moedig leerlinge verder aan om te lees.

  • Daar word ook gepoog om vas te stel wat leerlinge se belangstellingsveld is en boeke aan te koop wat hulle opgewonde maak. Besondere klem word op lees en ondersoekende denke geplaas sodat ons leerlinge kan leer om self na te vors en te ontdek.

  • Leerlinge word onderrig in navorsingstegnieke en hoe om 'n bibliografie saam te stel, sodat hulle in die hoërskool met gemak take kan aanpak.

 

INLIGTINGSTEGNOLOGIE

Die twee ten volle toegeruste rekenaarsentrums is beslis een van die gewildste plekke in die skool en word ten volle benut. Elke klas in JAN CELLIERS is ook toegerus met 'n dataprojektor en 'n skootrekenaar wat toegang het tot die Internet.

Verskeie programme is in gebruik in die twee rekenaarsentrums en leerlinge word blootgestel aan die nuutste tegnologie en enige aktuele materiaal wat waarde tot die leerproses kan voeg.

  • Projekwerk behels die gebruikmaking van die Internet en verskeie webtuistes.

  • Alle lesse sluit die ontwikkeling van tikvaardighede asook die verbetering van leesbegrip in.

  • Die basiese Microsoft programme soos Word, Excel en PowerPoint word tydens projekte en klastake gebruik.

  • Groot klem word op die basiese beginsels van programmering geplaas.

  • Leerlinge besoek die rekenaarsentrums reeds vanaf Graad 0.


 

 Akademiese Verryking

 

AKADEMIESE TOERE

Om aan leerlinge 'n holistiese onderwyservaring te bied, is dit belangrik dat hulle aan 'n diverse verskeidenheid onderrigmetodes en -situasies blootgestel word. Verskeie toere en uitstappies word deur die jaar beplan met die graad 7-toer na die Kaap as 'n jaarlikse hoogtepunt. Toere en uitstappies verskuif die grense. By JAN CELLIERS word nuwe onderriggeleenthede met ope arms verwelkom.

 

AKTIWITEITSPERIODES

Juniors & Seniors

  • Handvaardigheid

  • Koor

  • Skaak

  • Spraak en Drama

Slegs Juniors

  • Eksperi-maats en Tegnoklub

  • Lego-klub

Slegs Seniors

  • Frans

  • Fotografie

  • iPad Genius

  • Robotics

 

AKADEMIESE ONDERSTEUNINGSPROGRAM

Leerlingondersteuning is die proses waartydens leerlinge wat hindernisse tot leer ervaar ondersteun word om hierdie hindernisse te verminder, omseil of selfs te verwyder sodat elke leerling die maksimale vlak van onafhanklikheid in leer kan bereik.

Laerskool JAN CELLIERS beskik oor onderwyseresse met nagraadse kwalifikasies in leerlingondersteuning.

Hulle werk saam met die klas- en vakonderwysers om 'n gepaste ondersteuningsprogram vir 'n leerling daar te stel, en voorsien ook die klasonderwysers met advies en opleiding in die gebruik van beskikbare hulpbronne.

Praktiese riglyne word deur die leerlingondersteuningspan gebied oor algemene probleme soos spelling, lees, geletterdheid en disleksie. Tydens personeelvergaderings en -samekomste word geleentheid gebied om kennis uit te ruil.


 

ENTREPRENEURSDAG

Aan die einde van die onderrig-jaar word elke graad 7-leerling 'n entrepreneur in eie reg deur hul eie besigheid te beplan, ontwerp en te stig, as deel van die EBW leerplan. Ten einde kry leerlinge die geleentheid om hulle produkte aan die res van die skool ten toon te stel en te verkoop.

 

MARKDAG

Leerlinge (Graad 1 - Graad 7) kry elke jaar drie geleenthede om hulself op die gebied van entrepreneurskap te bewys. Een keer 'n termyn word daar 'n mark aangebied - pragtige versierde tafels en vrolike gesigte omskep dié dae in heerlike samekomste.

 

VERRYKINGSWEEK

Elke termyn maak ons voorsiening vir uitstappies van opvoedkundige en kulturele aard. Natuurreservate en plekke van historiese belang word besoek en so word kinders aan hulle land en taalerfenis blootgestel.


 

Kultuur

Personeel

Ondersteuning