Sosiale Verantwoordelikheid

Ons doel is om elke leerling bewus te maak van hul omgewing, die natuur en gemeenskapsverantwoordelikheid, en sodoende ons eko-leuse ‘verandering begin by MY’ uit te leef.

 
 
 

Herwinningsprojekte en Eko-Skool

Leerlinge leer die waarde van herverbruik en herwinning, en rommel word gereeld omskep in kuns! Ouers en leerlinge word aangemoedig om herwinbare produkte van hul huise af by die skool te deponeer. Daar is ook herwinningshouers op die kampus geplaas vir gebruik deur alle ouers, onderwysers en leerlinge.

Ons skenk jaarliks honderde eko-bakstene aan behoeftige gemeenskappe. Dit is sommer 'n lekker tydverdryf en ongelooflike goeie motoriese oefeninge vir verdere ontwikkeling vir leerlinge.  Boonop sorg ons dat daar baie minder klein stukkies plastiek die wye wêreld in dwarrel.

Eko Projek

JAN CELLIERS is sedert 2019 deel van die WESSA Eko-Skoleprogram.  Hierdie Internasionale Eko-skoleprogram is deur FEE (Foundation for Environmental Education) ontwikkel en ons het saam met met Wild Serve kragte ingespan om die program by JAN CELLIERS van stapel te stuur. Wild Serve is 'n offisiële vennoot van die WESSA (Wildlife & Environment Society of South Africa) Eko-skoleprogram en hulle doel is om skole in Gauteng op te voed oor omgewingsake en om 'n liefde en respek vir die natuur te kweek.

Ons het sopas ons Silwer-status toekenning verower en is 'n volwaardige WESSA geakkrediteerde skool. Ons volgende vlak-status sal goud wees.

Ons glo dat ons 'n verantwoordelikheid het om ons leerlinge holisties op te voed, om hulle bewus te maak van wat in die wêreld aangaan en hulle sensitief te maak vir die behoeftes van die omgewing.  

 
 
 
 

Jan Hofmeyer Gemeenskapsprojek

JAN CELLIERS is betrokke by die Jan Hofmeyer gemeenskapsprojek. Kos en klere word op gereelde basis ingesamel, en ouers skenk ook speelgoed, linne en skryfbehoeftes volgens spesifieke behoeftes van die gemeenskap. Jan Hofmeyer se kleuters kom kuier een keer per termyn by ons, en ontvang dan kospakkies waarvoor 'n spesifieke kleuter verantwoordelik is. 

 
 
 

MySchool | MyPlanet

Ons ouers ondersteun graag die MySchool MyPlanet projek deur aankope wat by verskeie MySchool MyPlanet-geaffilieerde winkels gemaak is.

 
 
 

Jan Celliers Identifiseer Gemeenskapsbehoeftes

Ons ouers, leerlinge en bestuur identifiseer graag projekte waar ons 'n verskil in die gemeenskap kan maak.

  • Kerspakkies vir bejaarde versorgingseenhede

  • Skoene en klere vir behoeftige kinders

  • Gemeenskapsprojekte vir kinderhuise

  • Gemeenskapsprojekte vir ons nabye omgewing en parke