Gedragskode vir Leerlinge

Die toepassing en implementering van die bepalings van die gedragskode geskied in oorleg en in terme van die bepalings van die Grondwet van die Republiek van Suid Afrika, 1996 (“die Grondwet”), die Suid-Afrikaanse Skolewet 84 van 1996 (“die Skolewet”) en alle regulasies en riglyne wat die Minister of die Departement van Onderwys van tyd tot tyd mag implementeer en verder onderhewig aan enige wysigings van die Skolewet wat van tyd tot tyd gepromulgeer mag word ten aansien van die onafhanklike onderwysinstellings. 

Artikel 8(4) van die Skolewet bepaal dat alle leerlinge wat ‘n skool bywoon, verplig is tot gehoorsaamheid aan daardie skool se gedragskode. Die gedragskode van Laerskool Jan Celliers (“Jan Celliers” of “die skool”) maak fundamenteel daarvoor voorsiening dat elke kind sy/haar volle potensiaal binne ‘n veilige, gekoesterde, gestruktureerde en gedissiplineerde omgewing bereik. Dit is daarom noodsaaklik dat die skool se gedragskode, wat die dissiplinêre kode insluit, duidelik en konsekwent toegepas sal word. 

Jan Celliers, wat in God en in tydlose universele waardes soos liefde, waarheid en hoop geanker is, streef daarna om sy unieke tradisie van uitnemende opvoedende onderwys te handhaaf en uit te bou tot voordeel van ons land en sy inwoners. Jan Celliers onderskryf die beginsels vervat in die Grondwet en beskou die handves van regte uiteengesit in hoofstuk 2 van die Grondwet as basis van hierdie gedragskode. 

Onderwysers en leerlinge van Jan Celliers streef om die volgende kernwaardes uit te leef wat oorkoepelend as die Jan Celliers-manier-van-doen bekend staan en wat veroorloof en beskerm word deur onder andere artikels 15, 28, 29, 30 en 31 van die Grondwet: 

  • Die waardes wat by leerlinge ingeboesem word, word verleen uit die Christelike geloof, denke en handel 

  • Onderrig geskied in Afrikaans en word onderskraag deur die reg tot moedertaalonderrig 

  • Respek – vir medeleerlinge, personeel, ouers, besoekers, teenstanders en die omgewing 

  • Integriteit – hoë morele waardes, netjiese voorkoms, positiewe optrede, trots 

  • Betrokkenheid – by akademie, sport, kultuur, die gemeenskap, leierskap en sosiale interaksie 

  • Selfdissipline – goeie gedrag, hoflikheid, nederigheid, bedagsaamheid, ywer en vriendelikheid  

Die oogmerk van die skoolreëls is om ’n gedissiplineerde en doelgerigte omgewing van effektiewe onderrig en leer by die skool moontlik te maak. Daar is geen omstandighede wat enige leerling onthef van die onderwerping aan die skoolreëls nie. Onkunde of oningeligtheid met betrekking tot skoolreëls is geen aanvaarbare verskoning nie. Die gedragskode onderskryf die skool se missiestelling in die handhawing van bogemelde kernwaardes. 

Die gedragskode is daarop ingestel om ‘n gedissiplineerde en doelgerigte skoolomgewing te vestig wat toegewy is aan die bevordering en handhawing van die gehalte van die leerproses. 

Wanneer ‘n leerling by Jan Celliers ingeskryf is, is hulle onderworpe aan die stiptelike nakoming van die gedragskode.

1. DISSIPLINE 

Jan Celliers stel orde en dissipline as voorvereiste vir die sinvolle persoonlikheidsontwikkeling van elke kind. Die doel is om leerlinge deur selfstandige leierskap onder die besef te bring dat vryheid en regte in die skool in balans gehou moet word deur nie alleen verantwoordelikheid te aanvaar en pligte na te kom nie, maar ook deur die regte van ander leerlinge en hulle belange om bogemelde waardes te realiseer. Elke leerling moet hoë eise aan hulself stel om verstandelike vermoëns, sporttalent, kultuuraanleg en -waardering, ontwikkeling van leierskap en selfbemagtiging optimaal te verwesenlik. 

Gedissiplineerde gedrag is essensieel vir die suksesvolle funksionering van die skool en welstand van ons leerlinge. Dit is elkeen se verantwoordelikheid om te sorg dat gedissiplineerde gedrag te alle tye gehandhaaf word. 

Dissipline behels dat leerlinge wil weet waar hulle grense lê en wat die reëls is om orde en dissipline te handhaaf. Sodanige dissipline laat indiwidue geborge voel en ontwikkel selfdissipline. 

Dissipline is die voorbeeld wat 'n volwassene aan 'n leerling stel om hom/haar op die pad na volwassenheid te begelei. 

Om te dissiplineer beteken om op te voed met die oog op die ordelike verloop van skoolaktiwiteite. Dit word bewerkstellig deur vaste reëls met betrekking tot skooldrag, netheid, voorkoms, stiptelikheid, vermyding van pligsversuim en swak gedrag. 

Daar word verwag dat ouers en leerlinge hulle aan die nakoming van reëls, beleide en voorskrifte sal verbind. Dit sluit die vorming van indiwidue se karakter in totaliteit in deur goeie gedrag aan te moedig en onaanvaarbare gedrag reg te stel.

Die dissiplinêre kode en prosedures berus op die volgende beginsels: 

  • Dissiplinêre optrede moet korrektief eerder as bestraffend/afbrekend wees. Die doel is om ‘n gedragsverandering ten goede mee te bring wat die leerling tot doeltreffender dienslewering sal vorm. 

  • Indien korrektiewe optrede onsuksesvol blyk te wees, sal bestraffende aksies in werking tree. 

  • Dissipline en die handhawing daarvan is die prerogatief van die bestuur en dissiplinêre komitee. 

  • Daar sal gestreef word om konsekwent in die toepassing van dissiplinêre voorskrifte te wees. Besluite en uitkomste word egter gebaseer op die tersaaklike feite van elke geval en oorwoë diskresie. 

  • Leerlinge moet bewus wees van wat die prosedures behels en ook watter optredes dissiplinêre optrede tot gevolg sal hê. 

Strafmaatreëls is slegs 'n tydelike deel van dissipline: 'n korttermynreël om die leerling van verkeerde optrede te weerhou. Indien enige leerling na die oordeel van die skoolbestuur hom/haar aan 'n oortreding skuldig maak, kan dit tot dissiplinêre optrede of detensie lei. 

Jan Celliers is voorts daartoe verbind om 'n veilige en burgerlike onderwysomgewing daar te stel vir alle leerlinge, vry van teistering, intimidasie en boelie. 

Boelie- en afknougedrag word ooreenkomstig die skool se anti-boeliebeleid onder toesig van die dissiplinêre komitee hanteer.

2. SKOOLBYWONING EN AFWESIGHEID 

Getroue skoolbywoning is van die allergrootste belang vir sukses en vordering ten opsigte van akademie, sport en kultuur. Leerlinge behoort nie onnodig van die skool af weg te bly nie, maar moet ook nie siek skool toe kom nie. Indien 'n leerling afwesig is weens siekte of enige ander rede, moet die ouers dieselfde oggend die skool skakel en die afwesigheid aanmeld. Indien 'n leerling weens siekte afwesig was, moet 'n doktersertifikaat of skriftelike verskoning van die ouers aan die skool besorg word. Tydens eksamens en toetsdae moet afwesighede met 'n mediese bewys gestaaf word en aan die skoolhoof gerig word. Deur die indiening van ’n mediese bewys word toestemming verleen dat die inhoud daarvan met die betrokke mediese praktisyn bevestig mag word.

3. VERLAAT VAN SKOOLTERREIN TYDENS SKOOLURE 

Wanneer verlof aan leerlinge toegestaan word om die skoolterrein te verlaat, moet ouers hulle persoonlik by ontvangs kom afhaal. Ontvangs sal die leerling per interkom ontbied. Ouers teken die leerling by ontvangs uit en ontvang 'n bewys wat aan sekuriteit by die hek oorhandig word. Wanneer leerlinge by die skool siek word, sal die nodige reëlings deur die skool getref word. Geen leerling mag self die ouer skakel nie.

4. SKOOLTYE (Laerskool) 

Aanvang: 

07:35 Alle leerlinge; 
07:25 Personeel 

Verdaag: 

Graad 1 tot 3 : daagliks 13:30; 
Graad 4 tot 7 : daagliks 14:00. 

Enige verandering in skooltye sal betyds aan leerlinge en ouers bekendgemaak word.

5. BEWEGING VOOR SKOOL / AANTREE / TASSE 

Sodra leerlinge soggens by die skool kom, word alle tasse voor die klaskamers neergesit voordat hulle na die speelterrein beweeg. Sportsakke word in die sluitkaste geplaas. Alle tasse moet ordelik in rye voor die klasse geplaas word. Op Dinsdae en Donderdae word tasse by die eerste lesperiode geplaas en op Maandae, Woensdae en Vrydae word tasse by die registerklas geplaas. Geen tasse of sportsakke mag in die kleedkamers geplaas word nie. Geen leerling mag voor skool op die stoepe wees nie. Sodra die klok lui, beweeg alle leerlinge ordelik en flink na die vierkant of die klaskamer. Reëlings vir die dag word aan die skool deurgegee.

6. SAALOPENING 

Leerlinge tree op Maandagoggende om 07:35 in die vierkant aan vanwaar hulle na die saal beweeg. Registeronderwysers vergesel hulle klasse na die saal en is vir die klas se dissipline verantwoordelik. Personeel bly na afloop van die opening in die saal en hanteer die ordelike verdaging. Leerlinge dra hulle kleurbaadjies tydens saalopeninge.

7. VERDAGING EN AFSLUITING AAN DIE EINDE VAN DIE SKOOLDAG 

Die interkom word aan die einde van die skooldag aangeskakel. Daar moet absolute stilte heers terwyl aankondigings gemaak word. Die dag se verrigtinge word daarna met gebed deur die klasonderwyser afgesluit. Daarna word die boeke weggepak en vensters toegemaak. Geen leerlinge verlaat die klaskamer voor die verdagingstyd nie.

8. LAATKOM 

Leerlinge moet betyds by die skool opdaag. Indien ouers probleme met vervoer of verkeer ondervind, moet die skool in kennis gestel word. Herhaaldelike laatkommery is 'n ernstige oortreding en skep 'n swak beeld.

9. OUERS BY KLASSE 

Indien boodskappe, boeke, sportklere of kospakkies aan leerlinge besorg moet word, moet dit by ontvangs gelaat word. Die leerlinge sal per interkom geroep word om die artikels te kom afhaal. Geen ouer mag 'n klas tydens onderrigure besoek nie.

10. KLASWISSELING 

Aan die einde van 'n periode word boeke opgepak. Die stoele word netjies onder die tafels geplaas en die klas word opgeruim. Leerlinge tree by die deure aan. Leerlinge verlaat die klaskamer ordelik en rustig en beweeg flink na die volgende klas. Wanneer leerlinge van klasse verwissel, moet hulle ordelik beweeg en by die volgende klas wag totdat hulle opdrag ontvang om in die klas in te gaan. Leerlinge beweeg te alle tye in klas- of graadgroepe. Ordereëlings voor lesperiodes word deur elke opvoeder self getref ooreenkomstig sy/haar oordeel. Geen lawaai, luidrugtigheid of geskree word toegelaat nie. Geen leerling mag op die stoepe hardloop nie. Daar moet te alle tye orde op die trappe wees. Leerlinge mag nie laat by klasse opdaag nie. 

11. GEDRAG 

Daar word verwag dat leerlinge altyd goedgemanierd en hoflik sal optree teenoor mekaar, die personeel, besoekers en die publiek. 

In die klaskamers 

Daar moet deurlopend 'n stil en rustige atmosfeer in die klaskamers heers. Beheersde gedrag van die opvoeder is uiters belangrik om dissipline te handhaaf. 'n Leerling wat met werk besig is, is gedissiplineerd. Leerlinge sit op spesifieke plekke, skuif nie rond nie en beweeg dadelik na hul onderskeie sitplekke. Leerlinge haal die toepaslike boeke uit en is lesgereed pas nadat hulle in die klas aangekom het. Onderwysers en leerlinge gee onverdeelde aandag tydens lesaanbieding. Leerlinge doen slegs die werk in daardie betrokke vak en nie ander werk nie. Leerlinge steek hul hande op indien vrae beantwoord of gevra word. Antwoorde word nie uitgeskree nie. Geen leerling stap in klaskamers rond nie, veral nie tydens onderrig nie. Leerlinge pla nie ander leerlinge in die klas nie. Daar word nie in die klasse geëet of gedrink nie. Rommel word nie in klaskamers gestrooi nie. Indien 'n personeellid afwesig is, sal die leerlinge 'n toesigrooster volg. Geen leerling mag tydens toesigperiodes buite die toesigklas wees nie. Leerlinge mag nie sonder toesig of toestemming in ‘n klas wees nie. Handboeke en skrifte word netjies oorgetrek en duidelik met die naam van die betrokke leerling gemerk. Opvoeders word nie deur leerlinge in die derde persoon aangespreek nie. Wanneer die skoolhoof of enige ander onderwyser in die klas kom, staan die leerlinge op en groet. 

Op die skoolterrein 

Geen leerling bly gedurende pouses in die klaskamers nie. Indien 'n leerling werk moet afhandel, moet die betrokke opvoeder ook in die klaskamer wees. Wanneer pouse aanbreek, moet daar eers stilte in die klaskamer wees totdat daar na die afkondigings geluister is. Leerlinge beweeg dan ordelik na die speelterrein. Geen rommel mag op die terrein gestrooi word nie. Geen leerling mag by die geparkeerde motors wees nie. Leerlinge mag nie tydens pouses die skoolterrein verlaat of besoekers ontvang nie. Alle besoekers moet by ontvangs aanmeld. Leerlinge mag nie met vreemdelinge buite die terrein gesels nie. Leerlinge doen kosaankope by die snoepwinkeltjie. Geen snoeperye mag van verkopers buite die skoolterrein gekoop word nie. Beserings of enige ongerymdhede word sonder versuim aan die personeel aan diens op die terrein gerapporteer. Leerlinge doen gedurende pouses, volgens ‘n voorafbepaalde rooster, diens op die speelterrein. 

Kleedkamers en toilette (seuns/dogters) 

Kleedkamers en toilette moet te alle tye netjies gehou word. Geen leerling mag in die kleedkamers speel nie. Geen kos word in die kleedkamers ingeneem nie. Geen tasse, klere, sportsakke of sporttoerusting mag in die kleedkamers gelaat word nie. Geen papiere mag in die kleedkamers rondgestrooi word nie. 

Die skool aanvaar dat seksisme en geslagsdiskriminasie nie toegelaat of geduld sal word nie. Skeiding van kleedkamers en toilette vir seuns en dogters geskied op grond van biologiese geslag en mag slegs gebruik word deur persone van die aangewese geslag. Hierdie reëling geskied vanweë beperkte hulpbronne en om die kinders se privaatheid en persoon te beskerm. 

Op die sportveld 

Alle reëls t.o.v. gedrag en optrede van leerlinge in die skool, geld ook op die sportveld. Sportspanne heet besoekers welkom, wens wenspanne geluk en groet wanneer hulle vertrek. Sportonderwysers bring die leerlinge op hoogte t.o.v. die spesifieke sportsoort se etiket. Leerlinge moet die korrekte, voorgeskrewe sportdrag dra. Hou by die reëls van die spel. 

Op die busse 

Handhaaf die positiewe reëls van dissipline in die skool. Leerlinge is amptelik aan die skool verbind en die skool sal indien daar probleme opduik, verplig wees om die leerling te dissiplineer. Wag vir die betrokke personeellid voordat die bus betree word. Klim ordelik op die bus en maak dit van agter af vol. Busse word ook ordelik verlaat. Dit is verpligtend dat alle leerlinge en ander passasiers vasgegordel sal wees. Geen rommel word in die busse gestrooi nie. Geen persoon staan, stap in die bus rond, steek arms by vensters uit of skree nie. Respekteer die bestuurder. 

Kulturele en of ander funksies 

Alle reëls t.o.v. gedrag en optrede van leerlinge in die skool, geld ook tydens kulturele- en skoolfunksies. 

12. WAARDEVOLLE EIENDOM 

Alle persoonlike besittings moet duidelik gemerk wees. Die skool aanvaar geen verantwoordelikheid vir diefstal t.o.v. tasse, klere, selfone, speelgoed ens. wat by die skool plaasvind nie. Laat waardevolle artikels asseblief tuis. Geen selfone word in klasse toegelaat nie. Selfone word in sluitkassies toegesluit. Die skool se selfoonbeleid reguleer die gebruik van selfone in die skool. 

13. HANDBOEKE EN SKRIFTE 

Voorsiening: Handboeke word deur die skool verskaf. Indien handboeke verlore sou raak, is die leerling verantwoordelik vir die vervanging op eie koste. 

Versorging: Alle handboeke moet netjies oorgetrek wees. Skrifte moet netjies versorg en oorgetrek word, soos deur die personeel voorgeskryf. Die handskrif in die skrifte moet te alle tye netjies wees.

14. SKOOLEIENDOM 

Geboue en meubels mag onder geen omstandighede misbruik, verniel of bekrap word nie. Handboeke moet netjies gehou en goed opgepas word. Niemand mag met elektriese of brandbestrydingsapparaat peuter nie. Leerlinge se eiendom is privaat. Ander leerlinge moet dit respekteer en met rus laat. Eiendom wat beskadig word, word deur die betrokke individu herstel of vervang.

15. TASSE 

Tasse moet stewig wees sodat boeke daardeur beskerm word. Tasse sonder afskortings word nie toegelaat nie. Tasse moet duidelik gemerk wees met die voor- en familienaam van die leerling aan wie dit behoort. Geen graffiti, plakkers of tekens word op tasse toegelaat nie. 

16. JAARPROGRAM 

Elke leerling ontvang aan die begin van elke jaar ’n beplannningsgids met die volledige jaarbeplanning van die skool sodat beide ouers en leerlinge op hoogte van skoolaktiwiteite gehou kan word. ’n Algemene omsendbrief word op Woensdae uitgestuur en ’n Sportbrief met oefen en wedstrydbepalings word elke Dinsdag beskikbaar gestel. ’n Kultuurbrief verskyn aan die begin van elke maand. Inligting verskyn ook op die skool se webwerf en die D6 kommunikeerder.

17. BESOEKE AAN ALGEMENE KANTOOR 

Leerlinge besoek die algemene kantoor slegs op versoek of indien hulle 'n amptelike skoolaangeleentheid moet afhandel. Besoeke vind slegs gedurende pouses, registerperiodes en voor of na skool plaas. Leerlinge mag dringende telefoonoproepe vanaf die skoolkantoor maak.

18. SLUITKASSIES 

Elke leerling in die Senior Primêre Fase ontvang 'n sluitkassie. Indien daar voldoende sluitkaste beskikbaar is, sal leerlinge in die Junior Primêre Fase ook een ontvang. 

Leerlinge moet drie sleutels vir hul sluitkas hê. Een sleutel hou hul by hulself, 'n tweede sleutel is in besit van die registeronderwyser en 'n derde sleutel is in besit van die ouer. Sluitkaste moet netjies gehou word. Leerlinge sluit hul sporttoerusting ens. in die sluitkaste toe. Geen persoon mag met iemand anders se sluitkas peuter nie.

19. EKSAMENS EN TOETSE 

Werkafbakening waaroor toetse en eksamens geskryf word, word vroegtydig aan leerlinge voorsien. 

Klastoetse is deel van deurlopende assessering en word gedurende elke termyn in die akademiese klasse geskryf. Termyntoetse vir graad 4 tot 7 is in die beplanningsgids geskeduleer en vind op Vrydae vanaf 07:45 tot 08:45 plaas. Eksamens word gedurende die tweede en derde termyn geskryf. Eksamenroosters is in die beplanningsgids uiteengesit maar is onderhewig aan verandering.

20. VERDIENSTE EN MERIETE TOEKENNINGS 

Toekennings word volgens die skool se bekroningsreglement gemaak en kan verwerf word op akademiese-, kultuur- en sport- gebied. Die bekroningsreglement word jaarliks aangepas en opgradeer.

21. SPEELTERREIN 

Onderwysers doen diens in die oggend voor skool, tydens pouses en 10 minute na skool op die speelterrein en by die uitgangshekke. Met inagneming van portuurgroep, geslag en veiligheid van die leerlinge speel hulle op die volgende areas: 

  • Graad 1 - 3 Skaakbord, grasperke voor die snoepwinkeltjie 

  • Graad 1 - 7 Leerlinge wat sonder balle speel op die boonste sportveld 

  • Graad 1 - 7 Leerlinge wat met balle speel op die middelste sportveld

Verbode terreine moet streng gehandhaaf word.

22. SKOOLDRAG 

Die voordeel van die dra van skooluniforms word bevestig in die Nasionale Riglyne vir Skooluniforms wat deur die Minister van Onderwys op 23 Februarie 2006 uitgevaardig is. Jan Cilliers onderskryf die beginsel dat skooluniforms belangrike sosiale- en opvoedingsdoelwitte bevorder. 

Leerlinge van graad 1 tot 7 dra die voorgeskrewe skooldrag vir alle skoolgeleenthede. Alle kledingstukke, insluitende skoene, moet duidelik met die kind se naam gemerk wees. Baadjies en skoene word elke dag na en van die skool gedra.

Die voorgeskrewe skooldrag is soos volg: 

Seuns 

  • Wit kortmouhemp sonder das en grys kortbroek in die somer. 

  • Kleurbaadjie met wapen, grys langbroek, wit langmouhemp en das in die winter. 

  • Swart toeryg leerskoene en grys kouse. 

Dogters 

  • Kleurbaadjie met wapen, groen skoolrok, wit kortmouhemp en wit sokkies in die somer. 

  • Kleurbaadjie met wapen, wit langmouhemp met das, groen skoolrok met swart kousbroekie of grys skoollangbroek met grys sokkies in die winter. 

  • Swart leerskoene met bandjie 

Algemeen 

  • Skoolserp en skooltrui is opsioneel in die winter. 

  • Bottelgroen reënbaadjie met 'n kappie mag in reënweer gedra word. 

  • Oortrektruie vir seuns is opsioneel in die somer en winter. 

  • Leerlinge moet te alle tye die skool in volle skooldrag bywoon. 

LW: Die sweetpak en sportskoene is deel van die sportdrag en nie deel van die daaglikse skooluniform nie.

23. SPORTDRAG 

Volgens sportsoort soos deur die Departement Sport voorgeskryf is. ‘n Lys van sportdrag vir seuns en dogters is tesame met foto’s beskikbaar. 

24. VOORKOMSREËLS 

Dit is ’n voorreg om die skooldrag van Jan Celliers te dra en ’n netjiese voorkoms is deel van die ryke tradisie van ons skool. Eenvormigheid en netheid dra ’n positiewe beeld uit en kweek trots by alle Jan Celliers leerlinge en -ondersteuners. 

Daar word van alle Jan Celliers leerlinge verwag om die onderstaande kleredrag en voorkomsreëls nougeset na te kom. Voorkomsreëls word daargestel om leerlinge ’n gevoel van eenheid binne die verskeidenheid van die skool te laat ervaar, die etos en tradisies na te streef en ook om aan elkeen se selfbeeld en selfontwikkeling reg te laat geskied. 

Geen byvoegings tot die skooluniform, wat nie deel is van die voorgeskrewe drag, is toelaatbaar nie.

Jan Celliers hou tred met die snel ontwikkelende wêreld en daarom is daar voortdurend vernuwing in ons denke, benadering en strategiese beplanning. Jan Celliers akkommodeer diversiteit tussen sosiale groepe en klasse. 

’n Jan Celliers leerling se voorkoms is altyd netjies en hare is skoon en goed versorg. Die onderstaande is aanduidend hiervan: 

Dogters 

  • Hare: 

    • Dogters dra slegs hul natuurlike haarkleur. Geen gekleurde of gebleikte hare word toegelaat nie. Geen ligstrepe in hare is toelaatbaar nie. 

    • Sodra hare oor die hempskraag hang, moet dit vasgemaak word. 

    • Haartoebehore mag gedra word. Slegs bottelgroen of geel haartoebehore word by die amptelike skooldrag gedra. 

    • Kuifies mag nie oor die wenkbroue hang nie en geen los haarstukkies word toegelaat nie. 

    • Hare moet met knippies uit die gesig gehou word. 

    • Rekkies met kleure so na as moontlik aan die dogter se natuurlike haarkleur word toegelaat. 

    • Hare moet netjies gekam wees. 

    • Geen haarverlengings word toegelaat nie. 

    • Geen oormatige jel of stileringsmiddels word toegelaat nie. 

  • Juwele: 

    • Geen hangertjies, armbande of ringe word saam met skool- en sportdrag toegelaat nie. 

    • Slegs een paar goue/silwer oorbelletjies mag gedra word. Die dogters het 'n keuse tussen knopies (sg. “studs”) en smal ringetjies. Geen ander oorbelletjies is toelaatbaar nie. 

    • Polshorlosies is toelaatbaar. 

    • Seëlringetjies en mediese bandjies is toelaatbaar. 

  • Naels: 

    • Naels is kort en skoon. 

    • Geen naellak is toelaatbaar nie. 

  • Grimering: 

    • Geen grimering van enige aard word toegelaat nie. 

Seuns 

  • Hare: 

    • Hare moet kort en netjies geknip wees. 

    • Die gedeelte om die ore moet skoongeknip wees. Hare mag nie aan die ore raak wanneer die hare regaf gekam word nie. 

    • Wanneer die hare afgekam word, mag dit nie die wenkbroue raak nie.

    • Hare moet agter reëlmatig gesny word. 

    • Hare mag nie uitermate van die kop wegstaan nie. 

    • Haarstyle wat onder uitgeskeer of -geknip word, oftewel ‘undercuts’, is verbode. 

    • Haarkleur moet te alle tye natuurlik vertoon. Geen onnatuurlike strepe word toegelaat nie. 

  • Juwele: 

    • Geen juwele, kettinkies of armbande word toegelaat nie. 

    • Horlosies en mediese bandjies word toegelaat. 

• Naels: 

  • Naels is kort en skoon. 

  • Geen naellak is toelaatbaar nie. 

  • Grimering: 

    • Geen grimering van enige aard word toegelaat nie.

25. OUERAANDE / INLIGTINGSESSIES 

Geskeduleerde geleenthede waartydens ouers per voorafgemaakte afspraak personeel kan kom spreek, verskyn op die jaar program. Opvoeders kan ook met ouers skakel vir 'n afspraak. Ouers is welkom om te skakel indien afsprake met opvoeders verlang word.

26. BELEIDE 

Die skool word bestuur aan die hand van verskeie beleide wat deel vorm van hierdie gedragskode. Die beleide sluit in, maar word nie beperk nie tot, bepalings en voorwaardes vir toelating, detensie, boeliegedrag, sosiale media en selfone. 

Afskrifte van hierdie beleide verskyn op die webblad of kan op versoek van die skoolhoof verkry word.

27. AANPASSING EN AFWYKING VAN DIE GEDRAGSKODE 

Die gedragskode moet algemeen beraadslaag word en deurlopend aangepas word om gehoor te gee aan die beginsels van redelike verdraagsaamheid en akkommodasie van diversiteit. 

Daar word vervolgens voorsiening gemaak vir ‘n beredeneerde proses waar aanpassing en afwyking van die gedrags- en voorkomsreëls op meriete hanteer sal word. 

Versoeke vir afwyking van die skoolreëls wat gedrag en voorkoms definieer, uit hoofde van opregte kulturele en/of godsdienstige oorwegings, kan skriftelik aan die Hoof van Laerskool Jan Celliers gerig word. Sodanige versoeke sal deur ‘n billike en deursigtige proses van besluitneming ondersteun word, waarna die aansoeker skriftelik rakende die bevinding in kennis gestel sal word. 

Die proses wat met elke aansoek vir aanpassing gevolg sal word, is soos volg:

  1. Die skool moedig vooraf gesprekke, in ’n gees van vennootskap tussen ouer en skool, aangaande verslapping in voorkomsreëls ten sterkste aan. 

  2. Ouer(s)/voog(de) van ’n leerling moet ’n skriftelike aansoek aan die hoof van die skool rig vir ’n aanpassing en/of afwyking van hierdie gedragskode. Die aansoek moet duidelik die voorskrif(te), beleid(e) en/of reël(s) van die gedragskode aandui waarvoor daar aanpassing en/of afwyking versoek word, tesame met die volledige gronde waarop daar gesteun word. Sonder om die algemene strekking van die voorafgaande bepalings te beperk, moet die aansoek in die besonder die volgende inligting verskaf tot die mate waarop dit redelik moontlik is om dit te doen:

    • Op welke identifiseerbare kulture, godsdienstige en/of ander oorwegings daar aanspraak gemaak word. Die aansoek moet die aard en omvang daarvan omskryf en ook bewys hiervan verskaf. 

    • Die aansoek moet aandui of die leerling opreg die betrokke oorweging aanhang, asook die tydsduur wat die leerling reeds die oortuiging nastreef of navolg. 

    • Die wyse waarop die voorskrif, beleid of reël van die gedragskode aangepas moet word in die betrokke geval, of die mate waartoe daar van die voorskrif, beleid of reël afgewyk wil word. 

    • Die aansoeker mag aandui of daar mondelinge vertoë ter ondersteuning van die aansoek gerig wil word. Die hoof mag sodanige versoek in sy of haar uitsluitlike diskresie toestaan of weier.

  3. Die skool moet binne twee skooldae skriftelik ontvangs van die aansoek erken. 

  4. Die aansoek sal deur die hoof van die skool, in oorleg met ’n adjunk-hoof, oorweeg word. Indien die leerling in die pre-primêr is, sal die aansoek deur die hoof van die pre-primêr, in oorleg met die hoof van die skool, oorweeg word. 

  5. Die skool moet die besluit ten aansien van die aansoek binne tien skooldae vandat daar ontvangs erken is, skriftelik aan die aansoeker oordra. Die mededeling behoort ten minste die kerngronde vir die besluit te verskaf.

  6. Indien die aansoeker nie met die besluit tevrede is of daarmee saamstem nie, mag die aansoeker binne sewe skooldae nadat die besluit oorgedra is, skriftelik ’n appèl daarteen aan die skoolraad aflewer. Die appèl sal deur ten minste drie lede van die raad beslis word. 

  7. Die skoolraad moet binne twee skooldae na aflewering van die appèl besluit welke van sy lede die appèl sal oorweeg. Die aangewese lede moet hul besluit ten aansien van die appèl binne tien skooldae daarna skriftelik aan die appèllant oordra, tesame met die redes vir die besluit. 

  8. Die lede van die skoolraad wat die appèl oorweeg mag die besluit deur die betrokke hoof handhaaf, ter syde stel of wysig.

ALGEMEEN 

Jan Celliers is 'n goed geordende gemeenskap en tree altyd gedissiplineerd op. Dit is bevorderlik vir goeie prestasie. Die beste dissipline is selfdissipline en daarom streef ons tot ons eie voordeel en tot voordeel van mekaar altyd daarna. Die samewerking van elke leerling, ouer en opvoeder word vriendelik versoek.